Die tyd vlieg soos kwartels in die oggendson. 2025 is verby soos 'n grondpad in 'n Toyota double cab rental. As jy jou oë uitvee, is dit 2026 en die jaar is op 'n galop. Die waaiers draai en die pôpôs is gereed om gegooi te word. Die gevaar om met 'n gesig vol sproete te sit, bly dreigend. Wat kan 'n man nou maak? Braai, jy kan braai 🔥. Wel meestal behalwe as dit reën. Planne moet gemaak word, vleis moet gebraai word. Lees meer waar ek induik in die bekendstelling van die 2026-model kampbraai sowel as ander braaioplossings 🧱.
In Johannesburg omgewing was 2025 se somer soos 'n warm Kaapse winter, dit het heeltyd gesous, dit was net nie koud nie. As of dit nie genoeg is nie het die Kaapse winter ons kom inval soos hy weg is in die Kaap, die probleem is hy het in die lente aangekom. Toe sous dit weer en hou amper nie op tot die winkels hulle kers versierings afgehaal het. Dis dan met die dat die braai ontwikkelingspan 'n paar planne gemaak het. Niks aard skuddend, net 'n gat in sy flap ge-laser-kat 🐈, al wat nodig is. Dan natuurlik ietsie vir binne ook solank die dak nie lek nie.
Nou ja, hier is dit nou 2026. Die bemarkings budget van Braaiosourus is weer afgekeur of dan aangepas na 'n "F" met 'n "ol". Alles is gespandeer op ontwikkeling en die ontwikkeling is gedoen teen die spoed van braai. Sonder meer het die bestuur, ontwikkeling, verkope en selfs die bemarkingspan feitlik soos een man ingestem: al die geld moet weer op ontwikkeling spandeer word. Mens nooi mense vir 'n braai, jy bemark dit nie. Nou ja... En die die ding waarop jy braai? Wel, dis 'n grys area, silwer-grys om presies te wees, en vlekvryestaal as jy gelukkig is. Nou ja, watter prys sit mens op so iets? Die groot prys, die hele prys, al die prys, maar wat kos dit? Geld, natuurlik. Voor ons die vloek van geld bespreek, kom ons praat oor die braai. Vlekvryestaal van bo tot onder, behalwe aluminium voete en 'n hout handvatseltjie, en stewig – hy weeg in op 22,5 kg. Bietjie lig in die broek om saam met Wikus 🥊 in die kryd te staan, maar goed genoeg vir sy tuin of die kampeer terein. Hoogte is steeds verstelbaar, lugvloei soos die eerste koue bier op 'n warm dag, en die aslaai is nou maklik bereikbaar reg van voor soos baie goeie goed. Goed, terug by die onderwerp van geld. 'n Klein lening behoort dit te doen. As jy jou huis in 'n flexi-bond gekoop het, behoort jy dit daaruit te kan betaal. Die beste is bespreek dit met my persoonlik; reik uit na my deur 'n boodskap te stuur op die Kontak blad. Solank jy weet dat mens by 'n verkeerslig moet stop, behoort ons mekaar te vind. Dan kan ons in verbinding tree – eindelik oor die telefoon of so – dinge bespreek en tot 'n ooreenkoms kom.
'n Jaar is 'n lang tyd. Is dit al wat 'n braai-dinosourus homself mee besig gehou het? Nie heeltemal nie. Die ontwikkelingspan is deur die top-topbestuur afgevaardig om – dis nou die bestuur van die bestuur, jy weet, die bestuur wat die manne met die kanne in die hanne dop hou, die bestuur met die ka... wag, laat ek aangaan – die binnebraai lekker te maak. Die resultaat is iets verskriklik ... verskriklik lekker bedoel ek, en dit lyk Netjies met 'n hoofletter N. Hier kan mens steak braai op die een kant en roosterkoek op die ander kant. Jy kan groente braai, soos mielies, babamurg-pampoentjies of selfs daai pers goed 🍆 aan die een kant en 'n heel hoender aan die ander kant. Surf en turf, vis op die een kant en 'n rump op die ander kant. Soveel wen-wen-kombinasies, moeilik om verkeerd te gaan – wel, dit is uiteraard braai waarvan ons hier praat. As die top-topbestuur vra: "Wat braai ons vanaand?", dan kan ek sê: aan die een kant pork rashers, maar aan die ander kant varkrib en jalapeño-wors. Dis 'n wen-wen-situasie. Gelukkig het ek die ekstra braaie gehad. Ek sal natuurlik, soos tyd aan gaan, hulle wil vervang met die nuwe model. Dis net makliker om skoon te maak. Hierdie twee is nog van die aluminium-tipe wat ek moet uitdra en omdraai om skoon te kry. Moeite, maar doenbaar. Dis nou waar jy my kan help: kontak jou bankbestuurder en koop 'n braai of as jy nie lus is vir jou bank bestuurder, kontak my dan onderhandel ons. As ek genoeg braaie verkoop, dan kan ek dit bekostig om die outjies op te gradeer.
Wat lê voor? 'n Rocket stove, 'n kampkaggel, 'n rookvrye fire pit. Ek hoop die ontwikkelingspan kom by alles uit. Nou intussen moet daar gekamp word om twee dinge aan te spreek met die jong span. Dinge is anders vandag. Toe ek 'n kind was, het my ouers nie geweet waar ek is nie. Nou weet mens waar die kinders is, maar nie waarmee hulle besig is nie. Kamp los beide daardie probleme op. Jy weet waar hulle is en waarmee hulle besig is. Dit is die strategie om die wêreld se programmering teen te werk. As mens kamp, dan braai mens. Goeie ding, ek het 'n lekker braai wat ek kan saamvat. Nou ja, dis nou genoeg, ek moet gaan braai.